My man was ‘n baie goeie mens. Hy het altyd baie mooi met my gepraat en was altyd gaaf. Maar soos die jare aangestap het en ons nie enige kinders gehad het nie, het sy familie en veral sy ma, baie wreed teenoor my geraak. Sy het my ‘n os genoem. Jy sien, in die Transkei het ons vier osse gebruik, ingespan in pare, om mee te ploeg.
Die koeie was soos vroue wat kinders gebring het, maar die osse was daar vir die fisiese harde werk, soos om ploeë te trek, groot dromme water te dra of groot bondels hout van die bos af aan te dra. My skoonma het my met ‘n os vergelyk omdat ek nie kinders kon hê nie. Ek was baie kwaad en seergemaak en wou weggaan. My man het gesê, ‘Moenie bekommerd wees nie.
Dis nie net ons wat nie kinders het nie. Party ou mense het ook nie kinders nie en hulle is steeds bymekaar. Ons is getroud en ons moet bymekaar bly tot die dag van ons dood.’ Maar sy familie wou baie kinders van ons gehad het en het geen notisie geneem van wat hy gesê het nie. Selfs wanneer die huis vol mense was, het hulle daaroor gepraat dat hulle my wou uitwerk.
Hulle sou herhaal, ‘Sy is nie wat ander vroue is nie, sy is ‘n os.’ Dit het my doodgemaak. En ek het nie geweet of dit ek of my man was wat nie kinders kon hê nie.
Op ‘n stadium het hulle my na ‘n dokter toe geneem wat gesê het my man is gesond, maar ek is vergiftig en my baarmoeder was baie vuil. Dit het almal weereens oortuig dat dit my skuld was. Ek het Mzwandile verlaat sonder om hom eens te sê, ses jaar nadat ons getroud is.
Ek het sy tyd gemors omdat ek nie kinders kon hê nie, en hy moet maar ‘n ander vrou neem en weer probeer, het ek gedink. Ek het Kaapstad toe gekom. Ons het nie oor daardie tyd gepraat nie. Maar op een tyd, toe ek moes teruggaan Oos-Kaap toe, het ek gehoor dat hy by my familie wou weet wanneer ek sou kom want hy wou my sien.
Ek het geweet dat hy steeds lief was vir my. Toe hy uiteindelik gekom het was dit ‘n baie hartseer dag en hy het gehuil. Hy het gesê dat hy nie glo dat ek nie reg is vir hom nie, maar dat hy alreeds met iemand anders getroud was, ‘n vrou wat twee kinders gehad het by ‘n vorige man, en hy wou ‘n egskeiding hê.
Op ‘n stadium het my oom vir my gesê dat die egskeidingspapiere gekom het, maar ek het hulle nooit gekry nie, want ek was nie toe by die huis nie. Ek dink vandag nog dat as my man se familie anders was, ons vandag nog bymekaar sou gewees het. Ek wonder, ‘Waarom het ons nie kinders gehad nie?
Ons lewens sou wonderlik gewees het.’ Hy het ook nie kinders met sy nuwe vrou gehad het nie. Ek dink wat gebeur het, was dat ‘n toordokter hom ingespuit het om seker te maak dat hy nie kinders kon hê nie.
Translated by Elna Van Rhyn